Pappa Bear
Kosie Kiem
Kosie
Pappa
Pappaaaaaaa
En met tye, Kobus (wanneer ek hom die bogenoemde genoem het en hy steeds nie reageer nie).
Die onbeskryflike pappa is my gunsteling mens!
Jacobus Francois Havenga, is vandag 56 jaar gelede gebore in die plaaslike hospitaal op Postmasburg in die Noord-Kaap.
Nie net is hy ‘n uitstekende lektor, vriend, broer, “oupa”, hoogspring afrigter, swembad skoonmaker, lang-pad bestuurder, strategiese denker, man-met-‘n-plan honde-fietsryer (hy gaan ry fiets saam met die hond, want stap is te vervelig vir haar) en vroeg oggend honde-vermaak-gholf-speler nie, maar ‘n uitstekende man vir ons mamma beer, en ‘n wonderlike pa vir ons 3 kinders, sy honde dogter, en vele kinders vir wie hy koshuispa was.
Wat ‘n formidabele man… wat my laat wonder hoe vier ‘n mens so ‘n pappa se verjaarsdag?
- ‘n Blog post kan seker werk, maar die kans dat hy weet wat ‘n blog is, vergeet van weet dat ek een het is seker ‘n manier om dit te doen, maar waarskynlik nie so suksesvol nie.
- ‘n ander manier is om ontbyt in die bed te gee, ‘n lunchbar onder sy kussing te los, of ‘n koppie swart koffie te maak met 3 suikers.
- Of ‘n jag uitstappie te boek, maar dink nie daai gaan werk nie, nie in Potchefstroom nie.
Dink ons gaan maar die eerste twee opsies kies (volgende jaar sal ons opsie drie doen pappa).
Kosie is ‘n wonderlike pa, ‘n goeie pa, hy is waarlik ‘n beste vriend en bron van wysheid, omgee en ONVOORWAARDELIKE liefde. Ek is in absolute bewondering van my pa wanneer ek dink aan alles wat hy al vir ons gedoen het (maar dit is ‘n lang storie).
My pa is:
- Op die Man af,
- ‘n Rowwe ongeslypte diamant,
- Streng,
- Vriendelik,
- Vol grappe,
- Absoluut toegewyd in alles wat hy aanpak,
- Nie bang om rondom die huis te help nie, en maak meeste van die tyd kos (dankie tog, #SkiesMamma),
- Eerlik (Roelien, jy is nou vol nonsens),
- Dol oor sport doen en sport kyk (dink dit is die enigste rede hoekom ons DSTV het),
- Absolute vriend, en weet wanneer om pa te wees,
- Een groot beer (1.91m lank, en weeg 119 kg), met die sagste hart! (hy was in trane teen die einde van Shall we dance),
- Kennis oor meeste aspekte van die lewe,
- Vol wenke om meeste take te vergemaklik,
- ‘n Bron van algemene kennis, en
- ‘n Lopende atlas (voor GPS op fone kon ek hom bel en verduidelik waar ek is, en hy sou presies weet waar) om net ‘n paar te noem.
Wat ek by hom geleer het:
- Hoe om vis te vang,
- Hoe om te skiet,
- Geweer-patrone te herlaai,
- Te Jag,
- In my eie kar in te breek om die sleutel te kry,
- Houtwerk te doen,
- Te sweiss en te soldeer,
- Biltong en droewors te maak,
- ‘n Fietswiel se band reg te maak,
- Gate in ‘n muur te boor met ‘n betonboor,
- Om ‘n “veer” te voel oor wat mense van jou dink (jy is wie jy is my kind, “take it, or leave it”),
- Hout te kap (dit is nie so maklik nie),
- Bestuur met kos in my hande (want niemand bestuur sonder enige afleidings nie),
- Wiele om te ruil (op my 17de verjaarsdag),
- Hoe om vleis te verwerk (op my 16 de verjaarsdag),
- Kort nifty wenke om enige taak makliker te maak,
- Hoe om ‘n Pully te maak (tot sy ontsteltenis, want op 13 het ek ‘n harnas vir die hond gebou, en hom, die hond, met my pully-sisteem tot op die huis se dak gehys.
- Jy doen nie halwe werk nie, jy doen ‘n ding volledig, of glad nie.
Lag en die wereld lag saam met jou, huil en jy huil alleen.
Meeste pa’s (van wat ek verneem) gee ‘n groot toespraak aan hulle kinders (veral die eerste) net voor hulle universiteit toe gaan. My toespraak was een sin: “Ek soek jou nie in Bourbons (‘n kuierplek in die ou Tom straat in Potchefstroom) nie”. Niks anders nie, net dit, wat vir my die mooiste teken van ouerskap was en is. Sy onbeskryflike vertroue in ons, nie as student nie, maar as jong volwassenes. Hy het ons drie kinders groot gemaak om onafhanklik te wees, op ons eie te kan oorleef en meeste take sonder sukkel te kan doen.
- Hy luister.
- Hy lag.
- Hy raak vies.
- Hy gee raad (al is dit nie wat jy wou hoor nie).
- Hy is onbeskryflik wys
- Sy geduld raak soms min
- Sy drukkies bly baie
So vinnnig as wat hy kan kwaad word, word hy weer goed, en probeer jou laat lag met ‘n grappie (en as jy so hardkoppig is soos ek, gaan jy na jou kamer toe, lag daar binne sodat hy nie sien jy dink dit is snaaks nie, en stap weer dikmond terug woonkamer toe).
Niemand ken my so goed soos hy nie (hy mag my dalk beter ken as wat ek myself ken).
Al drie ons kinders aard na hom, nog een van sy “dad jokes” is dat hy 100% seker is van wie sy kinders se pa is, hulle is net soos hy, hy is nie seker wie hulle ma is nie.
Wanneer ek vies raak sê hy heel rustig: “Tel tot tien, rol die koppie, rol die skouertjies” wat my nog meer vies maak, en dan, dan begin ek lag en dit alleen maak alles beter. Met tye kry ek hom vreeslik jammer, hy het twee van die mees moeilike tiener dogters waarvoor hy kon vra (nie vra). Nie stout nie, net verdomp hardkoppig (nes pappa, ons het by die beste geleer).
Ek kon nie (letterlik nie) vir ’n beter pa vra nie.
Geluk pappa beer, Baie lief vir pappa!
Blom Varkie
Dankie vir die mooi stuk en idee vir een van my volgende skrywe – ‘n pa se verhaal kan ‘n mens lank besig hou 🙂